Indiese Oseaan-aardbewing en -tsoenami van 2004

Die 2004-tsoenami tref Ao Nang, Thailand.
'n Animasie van die 2004-tsoenami.

Die Indiese Oseaan-aardbewing van 2004, met 'n grootte van 9.0 op die Richterskaal, het 'n reeks noodlottige tsoenami's ontketen op 26 Desember 2004, met meer as 220 000 sterftes in lande naby aan die aardbewing, soos Indonesië, Thailand en die noord-westelike kus van Maleisië, tot duisende kilometer ver in Bangladesj, Indië, Sri Lanka, die Maledive en selfs só ver as Somalië in Oos-Afrika. Die dodetal van hierdie tsoenami, meer as 310 000 mense, was die noodlottigste ooit in die geskrewe geskiedenis.

Anders as vir die Stille Oseaan, bestaan daar geen waarskuwingstelsel vir die Indiese Oseaan nie. Dit is deels te wyte aan die afwesigheid van enige groot tsoenamigebeurtenis sedert 1883, nadat die klem meer op die ontwikkeling van 'n waarskuwingstelsel vir tropiese siklone gelê het.

Daar is meer as VS$2 miljard in hulpbydraes ingesamel.

Om aardbewings beter te begryp moet 'n mens jou die aarde voorstel as groot, plat rotsplate, kilometers dik, wat rus op ’n dik, warm massa wat soos 'n waterstroom vloei. Vastelande, stede, dorpe en mense beweeg saam met die plate, maar jy merk niks op nie, omdat die beweging so ontsettend stadig is. Waar plate mekaar ontmoet, bots hulle of skuur hulle teen mekaar. Die kant van die een plaat kan dalk onder die ander een inskuif, of hulle kan van mekaar af wegskuif. Die krake in die aardkors waar plate bymekaarkom, word deur die geleerdes "breuke" (Engels "faults") genoem.

Wetenskaplikes sê dat die tsoenami van 26 Desember 2004 juis veroorsaak is deur 'n seismiese versteuring van die seebodem deurdat een van die rotsplate van die aardkors onder 'n ander een ingeskuif het. Die rand van die sogenaamde Indiese plaat het onder die Birmese mikroplaat ('n deel van die Eurasiese plaat) ingeduik en 'n deel van laasgenoemde in die proses saam met hom afwaarts getrek. Die tsoenami is veroorsaak toe die afgetrekte deel van die Birmaanse plaat weer opwaarts teruggespring en 'n magtige hoeveelheid energie aan die water daar bokant oorgedra het. 'n Foto wat deur 'n navorsingskip van die Britse Vloot geneem is, toon skouspelagtig hoe die seebodem in die proses geplooi, verwring en gebreek is.


Developed by StudentB